’n Internasionale soektog is Woensdag van stapel gestuur na ’n Britse man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou en twee jong dogters vermoor het, waarna hy oënskynlik na Zimbabwe gevlug het.
Die polisie het die verdagte as die 45-jarige Ndodana Mkhanyisi Tshuma, wat as Mark bekend staan, geïdentifiseer.
Tshuma, ’n Britse burger van Zimbabwiese afkoms, het die land na bewering Saterdag van die Heathrow-lughawe in Londen met ’n Britse paspoort verlaat.
Die liggame van sy vrou, Zandile Tshuma (42), en hul twee dogters, Natalie (15) en Nala (5), is Maandag in die gesin se spogwoning gevind. Die huis is in ’n gegoede voorstad van Bedford in sentraal-Engeland geleë.
Plaaslike polisie het die woning besoek ná kommer oor die gesin se welstand uitgespreek is.
Speurder Lee Martin het aan verslaggewers gesê hulle is bewus daarvan dat Tshuma die land Saterdag verlaat het en dat hy hom vermoedelik tans in Zimbabwe bevind. Martin het ’n ernstige beroep op Tshuma gedoen om hom aan die owerhede oor te gee.
Martin het Tshuma ook gewaarsku die polisie werk nou saam met nasionale sowel as internasionale agentskappe om elke moontlike leidraad op te volg om hom op te spoor.
Volgens mediaberigte, het Tshuma ’n eiendomsonderneming genaamd Nexus Trove Holdings uit sy huis bedryf.
A tragic incident has shaken the UK after a mother, Nothabo Zandile Khumalo, and her two children, aged 15 and 5, were found dead at their home in Great Denham, near Bedford. Police have launched a murder investigation and are searching for Mkhanyisi Mark Tshuma, who was known to… pic.twitter.com/ZcamL3WliU
— The Instigator (@Am_Blujay) July 8, 2026
