Lees: Jesaja 55:6-13
Boodskap vir kinders: Die tyd om terug te draai na die Here se pad van oorvloed is vandag.
Oorsig: Jesaja 55 maak ʼn aangrypende oproep tot oorvloed by die Here. Ons verstaan hierdie uitnodiging en oproep beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jesaja 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v. 12, letterlik vertaal). Waarom kon dit alles gebeur? Omdat die Kneg van die Here van Jesaja 53 (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja, baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom, so leer die Bybel al in die Ou Testament, sal nasies opspring en gedoop word. Dit het ook politieke implikasies. Daarom betoon konings ook respek (Jes. 49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Matt. 28:18-20). Ja, daarom trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was in die ballingskap, ʼn groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na almal om te kom na die oorvloed en dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.
In vers 5 hoor ons hoe die nasies geroep sal word en hulle na die Here getrek word en dat hulle selfs na Hom sal hardloop. Waarom? Ter wille van die Here, omdat Hy Israel deur hierdie Messias verheerlik het (vgl. Jes. 52:13 tot Jes. 53:12). Maar dan kom weer die dringende oproep: Die Here moet gesoek word terwyl Hy nog te vinde is en naby is (v. 6). Dit sal nie vir altyd so wees nie. Die oproep beteken konkreet dat (1) die goddelose sy weg sal verlaat en (2) die kwaaddoener sy gedagtes. Dit beteken verder dat daar nie net van verkeerde dade en gedagtes weggedraai word nie, maar ook dat (3) daar positief na die Here omgedraai word. Dan sal barmhartigheid en menigvuldige vergifnis by Hom beleef word (v. 7).
Daar word vervolgens gewys dat die Here se gedagtes nie ons gedagtes is en sy weë nie ons s’n nie. Dit is soos die hemel wat hoër as die aarde is (v. 8-9). Verder sal sy Woord soos reën en sneeu wees uit die hemel wat die aarde deurvogtig en saad (vir produksie) en brood (vir voeding en versorging) gee. So sal God se Woord ook nie leeg terugkeer nie, maar doen wat Hom behaag en voorspoedig wees in alles waartoe dit gestuur word (v. 10-11). Dan word die belofte gegee van ʼn nuwe eksodus, ʼn uittog van vreugde en vrede. Die natuur sal saam jubel. Berge en heuwels sal jubel en die bome van die veld hande klap. In die plek van ʼn doringboom (simbool van die sondeval) sal ʼn sipres (simbool van heerlikheid) opgaan. En net so vir die distel (simbool van die sondeval) sal ʼn mirteboom (simbool van seën) opgaan. Die natuur sal die Here se Naam verheerlik en ʼn ewige teken wees wat nie uitgeroei sal word nie (v. 12-13).
Besprekingsvraag: Waarom word juis die mirteboom en die sipres as simbole gekies?
Insig: Die uitnodiging tot die kosmiese feesmaal in Jesaja 55 is nie ʼn sentimentele aanbod of blote subjektiewe godsdienservaring nie. Dit is die juridiese proklamasie van ʼn voltooide oorwinning. Hierdie rykdom rus stewig op die strategiese fondament van die Kneg van die Here se werk in Jesaja 52 en 53. Die Woord propageer nie ʼn toekomstige moontlikheid nie, maar proklameer ʼn teenwoordige feit: Omdat die Messias sy siel tot in die dood uitgegiet het, as ʼn oortreder gereken is en die skuld van baie gedra het, het Hy die regmatige gesag verkry om nou die buit te verdeel met die nasies. Hy het ʼn ontsaglike fees bewerkstellig.
En tog, die verstommende is dat daar diegene is wat dit nie hoog ag om na hierdie Koning se feesmaal genooi te word nie (vgl. Luk. 14:18-20). Daarom moet ons naas die heerlike en vrye uitnodiging van vers 1 ook die dringende oproep van vers 6 hoor: Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Daar breek iewers ʼn tyd aan wat die deure toegemaak word. Laat dit insink.
Wat beteken dit vir individue en nasies om die Here te soek? Die alternatiewe woord in die Hebreeuse stylfiguur van ʼn parallelisme van die vers gee ʼn eerste wenk: Om Hom te soek beteken om Hom aan te roep terwyl Hy naby is. Ons sien iets daarvan in Abraham wat die Here in die vreemde land aangeroep het by altare wat Hy opgerig het vir Hom wat Abraham geroep het na die vreemde land (Gen. 13:1; vgl. Ps. 105:1). Die woord soek beteken nie hier dat ons glad nie weet waar Hy is nie, maar wel dat ons Hom opsoek daar waar Hy bepaal het dat ons met Hom ʼn verhouding mag hê. Dit is die weg van sy voorgeskrewe offers in die Ou Testament wat vervul is in die ewige offer van Jesus Christus wat pas in Jesaja 53 beskryf is. Roep Hom dus aan in die Naam van Jesus Christus, vir versoening en vir enige ander benoudheid (vgl. Ps. 50:15).
Die voortgang van die oproep in vers 7 maak verder ook duidelik wat die beteken: Daar is tipies twee dinge wat verlaat moet word: die goddelose weg en die kwaaddoen-gedagtes. Dit dus gaan oor beide dade en gedagtes, oor gewoontes en denke, oor karakter en verbeelding. Maar naas die wegkeer van die goddelose pad en slegte gedagtes, beteken dit ook positief die toekeer tot die Here. Dit sluit in die feesmaal en die oorvloed – die wyn en die melk. Dit is so heerlik, maar let op: Daar sal ʼn tyd kom wat die Here nie meer hieroor naby of te vinde sal wees nie. Ons word gehelp tot hierdie oproep deur twee waarborge wat met “want” begin.
Waarborg 1: Sondige mense kan allerhande redes uitdink waarom hulle nie na die feesmaal kan kom nie. Hulle kan gewoon nie belangstel nie, omdat hulle selfgemaakte lewe te belangrik is. Hulle kan dalk dink dat hulle eie feestelikheid genoeg is en dat hierdie fees nie werklik beter is nie. Moontlik is dit omdat hulle nie sogenaamde beheer wil prysgee nie. Maar daar kan ook diegene wees wat dalk wonder of hulle regtig ingesluit is. Miskien is daar diegene wat dink dat die Here nie hulle geval kan vergewe nie. Wat ook al die rede, almal moet hoor dat die Here se weë en gedagtes anders as die van die weë en gedagtes van die goddelose en kwaaddoener, soveel heerliker is. Hy is barmhartig en vergewe menigvuldig. Dit is soos die hemel baie hoër as die aarde. Ook as ons weer sondig, sal Hy ons vergewe en herstel en verder neem. Dit is soveel beter as enige plan wat ons self vir ons eie lewe het, want Hy weet oneindig beter en laat alles ten goede meewerk (Rom. 8:28).
Waarborg 2: Die tweede waarborg is dat sy Woord soos reën en sneeu is en sal doen waartoe Hy dit stuur op aarde. Sy Woord het krag wat mense sal oortuig. Uiteindelik is ons redding en in die herstel van die aarde nie geleë in ons bekering in die eerste plek nie, maar in sy Woord wat groot dinge doen. Hou hierdie Woord daarom vas in jou hart, want dit doen groot dinge.
Naas die oproep en die begronding vind ons hier ook verdere beloftes oor die gevolge vir hulle wat hieraan deel het. Die beeld van ʼn nuwe eksodus van bevryding uit ballingskap word gebruik en die hele natuur juig saam. Dit kan dus ook soveel groter word as individue en die hele gelaat van natuur en kultuur verander. Hierdie bevryding gaan saam met nuwe vreugde, vrede, jubeling, God se leiding en vernuwing van die hele natuur. Dorings en distels is simbole van dit wat seermaak en die lewe swaar maak en herinner ons aan die sondeval (vgl. Gen. 3:18). Maar hier leer die profeet dat dit vervang word met die immergroen seder en die mirteboom, simbole van heerlikheid en seën. Die seder was allerweë beskou as simbool van heerlikheid. Die mirteboom met die pragtige wit blomme wat soos sterre lyk en met die genesende en voedende olie en welriekende reuk, is beskou as simbool van voeding en prag en seën. Dit is wat die Here doen vir hulle wat kom om deel te wees van die groot feesmaal van sy Seun, die Een wat die feesmaal moontlik gemaak het.
Die tweede uittog, die terugkeer uit die ballingskap, was maar net die begin. Christus het die prys betaal, en die feesmaal is nou meer as ooit gereed en die vernuwing van die totale skepping net ʼn kwessie van tyd. Intussen kan ons nou reeds leef vanuit die nuwe verbond wat Christus ingebring het. Laat ons dan hiervan gebruik maak en hieruit leef terwyl die Here nog te vinde is.
Gebed: Here, ons kom vandag om weer met blydskap aan te meld vir u fees van oorvloed. Ons dank U vir die groot offer van u Seun wat die oorvloed moontlik gemaak het. Ons draai in die krag weg van elke pad van onreg en elke gedagte van onreinheid in u Naam. Dankie dat u pad soveel heerliker is as ons planne. Laat u Woord diep in ons harte werk. Amen.
Lied om te sing: Gesang: 271:1 ,3-5
Almal wat dors het, kom geniet
die grootste gunsbewys;
neem wat die HERE gee, verniet –
kom koop dit sonder prys;
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.
Vra na sy wil; kom soek die HEER,
terwyl Hy Hom laat vind.
Ontdek: Hy maak, genadig weer,
die sondaar tot sy kind.
Wie hul bekeer, dié word vergeef;
die HERE laat hul leef.
Hy maak die doringbos sipres;
die distel mirtestruik.
Wie sleg is, maak Hy nuut – ʼn mens
wat Hy met vrug gebruik.
Hy gee hul vreugde, vastigheid –
nou, en in ewigheid.
Soos wat die wolke kom met reën –
op aarde lewe giet,
so kom die Woord van God met seën
dit doen wat Hy gebied.
Dit bly ʼn teken tot sy eer –
die HERE, Hy is Héér!
Werke geraadpleeg
- Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries
- John N. Oswalt, NIV Application
- Matthew Henry
- D. Wegner. Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries
Alwyn Swanepoel is ʼn professor in die Departement Dogmatologie by die AP Akademie in Pretoria.
Facts Only
* The call is to return to the Lord's path of abundance now.
* The Messiah bore the guilt for many, being executed, bearing transgressions, and praying for transgressors.
* The Messiah became high and exalted.
* Nations will be called and drawn to God and will run to Him for His sake.
* God's thoughts are not human thoughts; the heavens are higher than the earth.
* God's Word is like rain and snow, giving the earth moisture, seed (production), bread (sustenance), and care.
* A new exodus of joy and peace is promised.
* The nature will rejoice, with mountains and hills cheering, and trees clapping their hands.
* A cypress replaces the thornbush (symbol of sin); a myrtle tree replaces the thistle (symbol of sin).
* The Word of God acts, bringing forth what He commands.
Executive Summary
Full Take
Sentinel — Human
The text presents a deeply exegetical and reflective meditation on Isaiah 55, structured with theological argumentation and culminating in personal application, strongly indicating human authorship.
