Skip to content
Chimera readability score 49 out of 100, College reading level.

Lees: Matteus 11:25-30
Boodskap vir kinders: Die Here Jesus roep elkeen wat swaarkry om by Hom ware rus te vind.
Oorsig: Hoe onbegryplik moes dit nie gewees het om die Here Jesus in sy aardse bediening te beleef nie. En tog, baie stede waarin sy prediking en wonders en tekens plaasgevind het, het dit nie ter harte geneem nie. Dit is ook ʼn waarskuwing vir ons oor wat ons werklik sal maak met die lewende Christus in ons midde. Onthou ook: Deur sy Gees is Hy in elk geval in ons midde waar twee of drie in sy Naam vergader is. En hier sien ons dat hoe meer lig ons ontvang, soos Betsaida en Kapernaum destyds, hoe groter is ons verantwoordelikheid en des te meer sal Hy ons verantwoordbaar daarvoor hou.
Ons lees dat die Here Jesus na sy waarskuwing aan stede soos Betsaida en Kapernaum, ʼn baie insiggewende gebed bid. Dit is een van net ʼn paar gebede van die Here Jesus wat ons in die Bybel het. Ons lees dat die Here begin het deur die Vader (let wel, nie moeder nie), te loof dat Hy sy werk verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het (v. 25). Dit was die Vader se behae om dit so te doen en die Here Jesus loof die Vader presies oor verberging spesifiek wanneer Hy verwys na sekere stede se verwerping (v. 26). Maar Hy loof die Vader ook oor openbaring aan hulle wat so ontvanklik is soos kinders. En dan lees ons dat die Here Jesus weer met die mense praat. Hy wys daarop dat alles (let wel) aan Hom oorgegee is deur die Vader en dat niemand (let wel) die Seun ken nie, behalwe die Vader. Verder ken ook niemand (let wel) die Vader nie, behalwe die Seun, en elkeen (let wel) aan wie die Seun dit wil openbaar (v. 27).
En dan roep die Here Jesus, op grond van sy geweldige uitspraak sopas, dat die mense wat nood het, na Hom moet kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Hy gee ʼn wonderlike belofte aan sulke mense: “… en Ek sal julle rus gee” (v. 28). Hy roep sulke mense verder op om sy juk op hulle te neem en van Hom te leer. ʼn Juk is gebruik om beeste in te span vir werk en die verkeerde juk of jukgenoot kon jou baie uitput. Maar die Here Jesus wys daarop dat Hy sagmoedig en nederig van hart is (vgl. Num. 12:3) en dat hulle (en ons) rus vir hulle siele (letterlik: psiges) sal vind by Hom (v. 29). Die rede: Sy juk is sag en sy las is lig (v. 30). Dit beteken dat sy juk nie ondraaglik hard is om te dra nie. By Hom gaan dit soms ook moeilik, maar die juk is tog sag en die las is lig te midde van moeiliker dae. Bowenal is daar rus vir die siel, wat twee maal in die gedeelte genoem word (v. 28, 29). In die ou verbond is van rus gepraat as die ou paaie van God se verbond en teenwoordigheid asook die beloofde land as God se uiteindelike rus (Eks. 33:14; Jer. 6:16). Die Here Jesus sê dus hiermee dat Hy nou die vervulling daarvan is.
Besprekingsvraag: Watter wanopvattings oor ʼn juk word kom deur hierdie gedeelte na vore?
Insig: Twee maal hoor ons in hierdie gedeelte oor ware rus (v. 28, 29). Dit is waarna ons smag te midde van soveel redes tot onrus in hierdie wêreld – siektes, konflik, geldprobleme, onvervulde verlangens, oorloë, aanvalle, dreigings, skuldgevoelens, angs en vrees. En tog, wanneer die groot antwoord op al hierdie sake, Jesus Christus, in Israel begin optree is almal nie daaroor opgewonde nie. Hy genees siekes, dryf demone uit, en openbaar sy mag oor die natuur. Dit is tog tekens van God se Koninkryk in hulle midde. Hy bewys daarmee en dat alles aan Hom oorgegee is deur die Vader, maar tog is daar diegene soos Betsaida en Kapernaum wat selfs meer as ander sien, meer lig ontvang, en hulle tog nie bekeer nie. Waarom nie? Twee redes vanuit verskillende hoeke word hier gegee.
- As God dit nie vir jou openbaar nie, sal jy blind bly, selfs al is Jesus Christus tasbaar in ons midde werksaam.
- Elkeen wat Hom verwerp sal wel verantwoordelik gehou word, want die rede vir die blindheid is dat sulke mense in hul eie oë verstandig en wys en hoogmoedig is.
Die openbaring wat eerder aan kindertjies gegee word (v. 25) gaan oor die ontvanklike en nederige optrede van ʼn kind. En die Here Jesus loof die Vader dat Hy dit verberg vir hoogmoediges wat nie ontvanklik is nie. Dit beteken dat gelowiges minder oor sogenaamde sukses in bediening getalle gepla te wees as wat ons soms is. Ons kan aandag daaraan gee dat daar egtheid sal wees onder hulle wat Christus ontvang. Jesus Christus is duidelik hier nie verleë oor mense se reaksie nie, want Hy ken die Vader intiem (v. 27: epiginosko beteken ‘intiem ken’). Dit is hulle ontsaglike verlies. Christus maak verder ook hieroor ontsaglike aansprake. Alles is aan Hom oorgegee deur die Vader en niemand ken Hom nie, behalwe die Vader en niemand ken die Vader nie, behalwe Hy en elkeen aan wie Hy dit wil openbaar. Dit is gedeeltes soos hierdie gedeelte saam met ander trajekte in die Woord wat die Kerk gelei het om tot die oortuiging te kom dat God Drie-enig is.
Hier moet sy geweldige stelling ons ook vandag weer konfronteer: Niemand kan God ken sonder die Seun nie. Dit veroorsaak aanstoot by intellektueles sowel as geestelik sensitiewes; ernstige godsdienstiges sowel as selfvoldane hoogmoediges. Dit gaan oor die sogenaamde skandaal van die partikuliere van God se Openbaring. Dit beteken dat ware redding net in Christus gevind word. So sterk as wat Israel daarop gestaan het dat daar een Here is, so sterk behoort gelowiges ná die Nuwe Testamentiese openbaring ook daarop te staan dat daar slegs een Middelaar tussen God en die mense is (1 Tim. 2:5). Christene moet wel waak om hieroor nie smalend of neerbuigend te wees nie, maar die aanstoot kan nie vermy word nie. Andersins is ons nie ernstig oor God wat sy Seun, van die dieselfde wese as die Vader, aan ons gegee het nie (Bruner). Jesus Christus wat dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie, moes Homself gee om deur sy kruis en opstanding ons te verlos. Sommige sê dit is verwaand om Christus so eksklusief op te stel. Ander maak dit af as latere geromantiseerde gemeenteteologie en nie die uitspraak van Jesus self nie. Maar almal wat die belydenis van Nicea (325 n.C.) oor Jesus Christus in Gees en in waarheid aanvaar, buig voor Hom wat van dieselfde wese as die Vader is, en wat ter wille van ons mense en ons saligheid, neergekom het uit die hemel (Nicea).
En tog, al is die toegang die Vader so eksklusief net deur Jesus Christus, is die uitnodiging deur Hom so wyd as kan kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Hy roep ook jou vandag: Kom! Dit maak nie saak watter soort moegheid en las dit mag wees nie. Al die dinge wat hier bo genoem is en nog meer, is ingesluit. Wat dit ook al is wat jou so moeg maak – dit is ingesluit. Op hierdie aarde is ware rus nie op enige ander plek nie. Die werklikheid van die dood dring ons ook om ʼn antwoord vir ware rus te vind selfs die dood in die oë te kyk. Die rus wat Christus word hier ook beskryf as sielerus wat psigiese rus insluit. Die rede wat Christus gee vir sy oproep is veelseggend: Hy is sagmoedig en nederig van hart. Ons het ʼn kragtige Koning wat ook ʼn barmhartige Hoëpriester is. Die wonderlike werklikheid van ʼn almagtige, nederige Koning maak dit moontlik dat ons ware rus mag ken. Hy lei sy kudde saggies en sy juk is sag (vgl. Jes. 40:11).
Die gebruik van die woord “juk” help ons hier teen twee wanopvattings: Sommige maak of daar geen juk is nie, maar dit is ʼn valse vryheidsopvatting waar mense onafhanklike godjies wil wees. Dit kan niemand ooit wees nie. In een of ander juk sal ons altyd staan onder een of ander mag. Dink byvoorbeeld aan die staat en die mag van die Bose as alternatiewe. ʼn Juk was ʼn algemene beeld vir onderwerping aan die wet of een of ander heerser. In wie se juk trek jy? Onthou: Slawe is van ouds af beloon deur bepaalde plesiere terwyl hulle slawe bly. Watter poppemeester trek jou toutjies, met of sonder jou wete? Watter owerheid ken jy wie se juk sagter is as daar waar Christus heers?
Die tweede wanopvatting is dat jy dink dat jy God se wet of juk op jou eie kan hou. Dan probeer ons om die juk van die wet self te dra en dit is onmoontlik. Dan beleef ons die veroordeling van die wet. Hoe kan ons Christus se juk dan leer ken op sy manier? ʼn Juk is dikwels deur ʼn span van twee saamgetrek. Christus neem die juk saam met ons op. Hoe? Hy het die dood oorwin vir ons en deur sy Gees werk Hy nou in en deur ons. Deur Hom vind ons rus deur sy verlossing vir ons omdat ons nie ons verlossing hoef te bewerk nie. Verder vind ons ook dat die juk van dissipelskap sag is deur sy Gees in ons. Dit beteken dat ons met sy ligte juk in sy krag medewerkers word in God se Koninkryk. Ons moet wel die weg van selfverloëning leer ken in Christus, maar die ondraaglikheid en die rugbreek val weg. Die bekragtiging deur sy Gees is daar en soos menige moeilike saak wat die moeite werd is, is die oorwinning juis so soveel soeter en vol avontuur. Die rus en die aanmeld vir sy goeie juk gaan dus saam. Elkeen wat vermoeid en belas is, moet vandag weer hoor dat Hy jou roep: Kom! Ook jy wat hoor en kom mag sy rus beleef.
Gebed: Here, ons hoor u oproep en ons kom in die krag van u Gees. Ons weet nie presies hoe om te maak of wat om te doen nie, maar hier is ons voor U, die Een aan wie alles oorgegee is. Ons erken ook dat u sagte juk deel is van die oproep. Maak ons nederig en leer ons elkeen persoonlik wat dit is om u sagte juk te ken en rus te hê vir ons siel. Ons dank U dat ons onstuimige harte by U mag rus vind. Amen.
Lied om te sing: Psalm 147:1, 2, 4
Laat voor die HEER ʼn lofsang rys!
Hoe goed is dit om God te prys!
Hoe lieflik om dié lof te sing,
die lof wat ons aan Hom moet bring!
Want Hy wil ons in guns aanskou,
Hy wil Jerusalem herbou
en Isr’el wat verstrooid nog swerf,
versamel op die heil’ge erf.
Hy heel gebrokenes van hart,
en Hy verbind hul in hul smart.
Sy oë speur oneindig ver;
Hy tel en roep die laaste ster;
sy krag en kennis, ongemeet,
oorwelf al wat ons ken en weet.
Sagmoediges verhef Hy weer,
maar goddeloses werp Hy neer.
Gods krag is nie soos mensemag
wat heil van oorlogsperde wag,
of van die bene, sterk gebou,
waarop die krygsman vas vertrou.
Maar húl alleen kan Hom behaag
wat needrig na sy sterkte vraag,
en, hoe dit ook mag teëloop,
Hom vrees en op sy goedheid hoop.
Werke geraadpleeg
- Peter Leithart, The Gospel of Matthew: Jesus as Israel
- Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary (Hierdie boodskap leun sterk aan op Bruner by die Insig-gedeelte).
- Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.
- Matthew Henry.
- Curtis Mitch en Edward Sri: The Gospel of Matthew.
Alwyn Swanepoel is ʼn professor in die Departement Dogmatologie by die AP Akademie in Pretoria.