Larry die kat, Brittanje se bekendste kat, het Maandag sy sewende huismaat by Downingstraat 10 verwelkom sedert hy meer as 15 jaar gelede die gange van politieke mag begin patrolleer het.
“Politici kom en gaan; katte is permanent,” lui ’n plasing op Larry se X-rekening, @Number10cat, terwyl die land se hoofmuisvanger gewag het dat die nuwe leier, Andy Burnham, by Keir Starmer oorneem.
In sy instruksies aan sy nuwe werkgewers het hy geskryf: “Larry hou van sy ontbyt om 09:00, ’n laatontbyt om 10:30 en middagete om 12:00, met hope peuselhappies tussenin. Die res van die werk is kinderspeletjies.”
Hier is enkele dinge om te weet oor die enigste permanente, of eerder “purr-manente”, inwoner van dié veelbewoë ampswoning.
Nederige herkoms
Larry is gewerf om ’n knaagdierprobleem te takel en het op 15 Februarie 2011 by die premier se amptelike woning ingetrek, toe David Cameron die land se leier was.
Hy is by ’n diereskuiling in Londen aangeneem toe hy vermoedelik sowat vier jaar oud was.
Sedertdien heers die wit-en-gestreepte kat, wat op Downingstraat se webwerf amptelik as die “hoofmuisvanger van die kabinetskantoor” bekendgestel word, van Brittanje se bekendste voorstoepe.
Volgens sy amptelike profiel op Downingstraat se webwerf verrig Larry meer as net knaagdierbeheer.
“Larry bring sy dae deur deur gaste by die huis te verwelkom, veiligheidsmaatreëls te inspekteer en antieke meubels se geskiktheid vir middagslapies te toets.”
Ses premiers oorleef
Larry het reeds onder ses premiers, van Cameron tot Starmer, gewoon en die storms van Brexit, die covid-19-pandemie, die chaos van “partygate” en Liz Truss se warrelwindtermyn van 49 dae deurstaan.
Anders as sommige lede van Starmer se kabinet, sal Larry na verwagting sy pos onder Burnham behou.
Dit wil voorkom of niks dié politieke veteraan se pels kan deurmekaar krap nie, terwyl hy met tipiese kattekalmte, en af en toe ’n lek van sy poot, van die een krisis na die volgende beweeg.
Larry, wat vermoedelik nou sowat 19 jaar oud is, is ’n gunsteling onder die media en steel dikwels die kollig van besoekende wêreldleiers.
In Desember was hy op die voorstoep om Oekraïne se president, Wolodimir Zelenski, te verwelkom.
Kat-beïnvloeder
Larry se X-rekening het meer as 900 000 volgelinge.
Die rekening word deur ’n anonieme gebruiker bestuur en bevat gereeld Larry se klagtes oor hoe hy in die reën vasgevang word, asook skerpsinnige uitlatings oor onder andere politici van Reform UK en die Amerikaanse president, Donald Trump.
Sy eerste paar maande “in die amp” het selfs tot ’n boek, The Larry Diaries, gelei wat in 2011 verskyn het.
Larry het die afgelope twee jaar Downingstraat 10 pligsgetrou met JoJo en Prince, die Starmer-gesin se katte, gedeel.
Sy volgende huismaat kan egter ’n groter uitdaging wees, aangesien Britse media daarop wys dat die Burnham-gesin ’n hond het. Dit is nog nie duidelik of die viervoetige vriend ook gaan intrek nie.
Politicians come and go; cats are permanent https://t.co/YoiHKzn2hU
— Larry the Cat (@Number10cat) July 20, 2026
Sentinel — Human
The article reads as a highly narrative piece weaving together established political history with a central, anthropomorphized animal figure, exhibiting stylistic choices typical of feature or opinion journalism rather than pure informational reporting.
