Maak toe jou oë en verbeel jou dié buitengewone gesig in die Laeveld: ses pienk tente met spits dakkies soos sirkustente en reuse-Swahili-deure; dagbeddens wat in die windjie wieg; antieke meubels wat skouers skuur met bont lap van wêreldbekende ontwerpers; kandelare en Victoriaanse pootjiesbaddens in skelpienk of pers, dieprooi of koningsblou.
The Royal Portfolio (TRP) se nuwe Masiya’s Camp in die Thornybush Privaat Wildreservaat in die noordelike streek van die Groter Kruger, het ook vir mede-eienaar, Liz Biden, as verbeeldingsvlug begin. The Royal Portfolio het verskeie eiendomme in Thornybush, maar Masiya’s Camp is die nuutste en kleurvolste.
Die kleur-inspirasie vir die kamp het wortelgeskiet toe Liz in Turkye na die mooi rooikoperkleur van ʼn paleis se mure gekyk het. Dit was die kleur van Afrika, van sononder, en vir baie, die kleur van liefde.
Want liefde, hart en siel is wat dié nuwe kamp die veelkleurige lushof maak wat dit is. Toe Liz met haar inkleurpotlode begin ontwerp het aan die ses luukse suites, het haar tweede golf inspirasie van ʼn veelkleurige voëltjie, die Europese troupant, gekom. Dis een van haar gunstelingvoëls.
En synde dat ʼn troupant aan geliefdes se vingers ewige liefde verteenwoordig, was rooi en pienk natuurlik deel van die dekordrama.
Sy vertel verlede jaar in een of ander onderhoud: “Ek doen nie vaal of beige nie, so Masiya’s Camp is kleurvol, eklekties en moontlik ʼn bietjie mal. Ek het in ʼn baie tradisionele huishouding grootgeword. My enigste kennismaking met ontwerp was toe ek my kamer heeltyd verander het. Ek is dapper met kleur, want ek is nooit opgelei om te dink jy kan nie pienk en rooi saamvoeg nie. Masiya’s Camp is baldadig, pragtig en weelderig – ʼn bietjie Palm Beach in die bos.
“Die pienk strepe op die plafonne van die kroeg en restaurant herinner moontlik meer aan ʼn sirkusdak as ʼn safaritent. Soms bou ek ʼn interieur rondom ʼn pragtige tapyt of skildery, maar my reëls is dat ʼn kamer drie dinge benodig: iets ouds om dit diepte te gee; iets nuuts en helder; en iets prettigs.”
Masiya’s Camp het dit beslis.
Maar vinnig terug by die troupant voor ons klim vir ons eerste wildrit of sonsaksopies geniet, terwyl die Afrikason koperrooi oor die heuwels arms oopgooi en dan dramaties met goue stuiptrekkings agter die horison verdwyn.
The Royal Portfolio-groep se stigting werk al vir etlike jare saam met Birdlife International en Birdlife Suid-Afrika en navorsing oor die kwynende getalle van die Europese troupant – die enigste troupantspesie wat winters in Afrika deurbring, voor hulle Europa en Asië toe vlieg om te broei. Maar inligting oor waar hulle rus, kos kry en uiteindelik nesbou, was skraps.
Toe twee troupante, ʼn mannetjie en wyfie – vinnig Rory en Hera gedoop – in Thornybush bespeur is, is hulle met piepklein sonkrag opsporingstoestelletjie op hul rûe toegerus, om data in te win.
Hera het 10 000 km na Oesbekistan via Somalië gevlieg. Rory het meer as 15 000 km na China afgelê om daar te gaan broei. Hy het tien lande deurkruis en ook – soos ander troupante – drie tot vier weke in Somalië vertoef, voor hy die laaste deel van sy reis aangepak het.
En dit het Liz se verbeelding heeltemal op loop gesit. Die kamp se dekor is ʼn huldeblyk aan die brawe klein voëltjie en sy helderpienk, heldergroen en turkoois veertjies was inspirasie vir bont skilderye, Persiese matte en veelkleurige glaskrale.
Met dié storie in my agterkop, kyk ek toe natuurlik heeltyd by die venster uit om die troupant te sien, terwyl ons gids, Ally Ross, ons van Hoedspruit-lughawe na Masiya’s Camp aanry.
Ons bly twee nagte daar in een van die mooie tente. Ally het vertel waar die kamp sy naam vandaan kry: dis genoem na Wilson Masiya – ʼn legendariese meesterspoorsnyer en een van slegs 14 wêreldwyd – wat vir etlike jare daar in die Groter Kruger gewerk het.
Wilson is in Mosambiek gebore en het in 1977, toe ʼn burgeroorlog in sy geboorteland uitbreek, met sy familie deur die Krugerwildtuin na Suid-Afrika gevlug. Die Masiyas het meer as 130 km te voet afgelê voor hulle by Welverdiend, ʼn stuk land tussen Royal Malewane en die Orpenhek, tot ruste gekom het.
Later het hy vir SANParke as spoorsnyer by Thornybush Game Lodge begin werk en homself onderskei as meesterspoorsnyer.
Toe die Biden-familie Royal Malewane in 1999 open, was hy ʼn natuurlike keuse om by die span van The Royal Portfolio aan te sluit. Ná sy dood in 2015 wou die span sy nalatenskap vier en die idee vir Masiya’s Camp is gebore.
Dis luuksheid op ʼn ander vlak, en internasionale media val oor hul voete om die plek se lof te besing. Jy weet dis kleurvol en oordadig, maar niks kan jou voorberei op wat onder die pienk tentseil wag nie: Dis meer as 230 m2 se luukse – ʼn kamer, sitkamer, badkamer en buitestort wat groter as ons huis is; ʼn reusehoutdek buite met ʼn klein verhitte plonspoel, dagbeddens onder sambrele en ʼn wiegende liefdesbankie onder sirkusagtige dakkies. Die drankkabinet het die beste wyne, whiskies en konjak, die ysbakkie is vol en die suurlemoen verkoel vir jou G&T.
As jy die louwarm water dryf, weet jy een of ander dier of voël loer deur die ruigtes en wag vir ʼn kansie om water uit jou swembad te kom drink.
Geen vaal kakie, room of ivoor nie: maksimalisme op steroïdes, lag my geliefde. Maar ek kan sien hy geniet dié welkome afwisseling van tradisionele boskampe net so baie soos ek.
Liz is ook mal oor kuns en sê die verskillende Suid-Afrikaanse kulture vorm die hoeksteen van al TRP se eiendomme. Heelwat van die kunswerke in die tente en gemeenskaplike eet- en sitkamer is van die Zimbabwiese kunstenaar Tafadzwa Tega, wat bont portrette skep wat kulturele identiteit ontgin.
Ons eet in die kleurvolle eetkamer tussen reusepalms in potte, oorgroot skilderye bo kaggels en agter rusbanke, fluweelbanke en ʼn groen kroeg met teëls wat my skoon jaloers maak. Bedags dryf ons in die swembadjie, dit tussen boeklees en knaag aan lekkernye wat die kombuis aandra. Saans sit ons onder die sterre met whisky en sjokolade. Altyd omring deur kleur, altyd bewus dat die “vaal” bos verskeie diere met Josefsklede huisves.
Die 72 uur wat ons by Masiya’s Camp en ook by Farmstead ʼn katspoegie verder bly, sien ons verskeie kere die Groot Vyf. Ally en haar spoorsnyer, Lodrick Mikanzi, se oë is skerp, en ons sien troppe leeus, olifante, buffels, luiperds, hiënas, aasvoëls, renosters en bokke van elke soort en spesie. Ons sien roofvoëls, klein insekte, seekoeie en watervoëls.
Ons sien pragtige mopanie- en maroelabome, sonsondergange wat jou asem wegslaan en sebras wat in die stil bos só hard kou dat jy dit onder jou voetsole voel vibreer.
Maar die troupant bly ons ontwyk.
“Dis nog te vroeg,” mymer Ally half vir haarself op ons laaste oggendrit voor sy ons by Farmstead gaan aflaai, waar ons ʼn ander soort Boservaring van die groep sal ervaar en ook ʼn nuwe gids, Tyron van der Walt, en spoorsnyer, Lucas Mathonsi, kry.
Die eerste troupante arriveer eers in middel November en ons kuier in Oktober daar. Gelukkig het ons dié pragvoël al verskeie kere in die verlede gesien, maar ek sien die teleurstelling van twee Amerikaners saam met ons op die voertuig. Hulle moet met ʼn foto in die voëlboek tevrede wees, maar hoop om dalk eendag terug te keer.
Gelukkig maak ʼn swartrenoster, die bosdinee onder die Afrika-sterre en ʼn lang massering op vir hul “verlies”, en ons weet ons sal binnekort weer hier kom dwaal om saam na Rory te kom soek.
Vir eers is die herinnering aan die uitspattige kleur in die bos – binne en buite die mooie tente, genoeg om mens se gemoed lig te hou.
Kitsfeite
Elkeen van die TRP-eiendomme in die Groter Kruger, Masiya’s Camp, Malewane Lodge, Farmstead & Farmhouse, Waterside & Waterside House, en Africa House, het ʼn ander karakter, maar die spatsels baldadige kleur is soos ʼn skelpienk draadjie deur alles verweef. Sommige lodges is meer getooi in geweefde grasmandjies, hout en been; ander is meer plaashuis-sjiek met diamante. Kies die een wat die beste by jou behoeftes en buie pas by theroyalportfolio.com en bespreek by [email protected].
Kyk hier vir meer oor Rory die troupant.
Facts Only
* The Royal Portfolio has a new Masiya’s Camp in the Thornybush Private Wilderness in the northern region of the Greater Kruger.
* Liz Biden is a co-owner of Masiya’s Camp.
* Color inspiration originated from the reddish-copper color of a palace wall in Turkey, linked to the color of Africa and love.
* The design incorporated inspiration from the multi-colored European troupant.
* Liz stated she avoids dull colors like beige, favoring bright and vibrant aesthetics.
* The camp features luxurious accommodations, including large living spaces and outdoor areas.
* Two troupants, Rory and Hera, were deployed to Thornybush for data collection.
* Hera traveled 10,000 km to Uzbekistan via Somalia, and Rory traveled over 15,000 km to China.
* Wilson Masiya worked in Thornybush and later became a master tracker for SANParks.
* The camp features interiors incorporating art by the Zimbabwean artist Tafadzwa Tega.
* Wildlife sightings included lions, elephants, buffaloes, hyenas, and various birds.
Executive Summary
Full Take
Sentinel — Human
The text reads as a highly stylized, personal narrative that blends travelogue elements with historical context, suggesting strong human authorship focused on evocative description rather than detached analysis.
