Iran se president Masoud Pezeshkian het Vrydag gesê dit is tyd om die maande lange Midde-Ooste-oorlog met die VSA te beëindig omdat Teheran blykbaar in ’n sterker posisie as Washington is.
Iran hou die Straat van Hormoes gedeeltelik gesluit, terwyl die VSA volhou met ’n teenblokkade van Iranse hawens en ekonomiese sanksies teen Iran.
“Dit is beter dat ons die oorlog nou tot ’n einde bring aangesien ons in ’n posisie van mag en waardigheid is,” het Pezeshkian gesê.
“Die hele wêreld erken ons oorwinning en beklemtoon dat Amerika ons skole, hospitale en infrastruktuur in stryd met alle regulasies aangeval het en [die VSA] word reg oor die wêreld gehaat.”
Pezeshkian het ook gesê die memorandum van verstandhouding wat in Junie met die VSA ooreengekom is, beteken nie ’n nederlaag vir Iran nie.
“Hulle kan nie eers ’n enkele klousule in hierdie ooreenkoms vind wat voorwaardelike oorgawe aandui nie. Al die verpligtinge het betrekking op die ander kant,” het hy gesê.
Iran se aansprake om in die sterker posisie te wees, het gevolg op ’n aankondiging van die VSA dat dit sanksies sal opskerp om druk op die Islamitiese Republiek te verhoog.
Die Amerikaanse plan het veroordeling ontlok van Iran se ministerie van buitelandse sake, wat die VSA van “ekonomiese terreur” beskuldig het.
Scott Bessent, Amerika se minister van finansies, het vroeër die onderneming gegee dat Washington die Iranse regime met sy dreigende sanksieveldtog “in duie sal laat stort”.
Bessent het gesê die plan om ekonomiese sanksies teen Iran op te skerp, beteken dat Washington minder geneig is om terug te keer na swaar militêre operasies teen die land.
Volgens berigte in Amerikaanse media het die Amerikaanse vloot intussen geheime konvooie tenkskepe deur die suidelike sektor van die seestraat georganiseer en beskerm, wat dit moontlik maak om tussen vyf en 10 miljoen vate olie per dag uit te voer.
Pres. Donald Trump het verlede week ʼn groot nuwe veldtog van stapel gestuur om Iran se ekonomie te teiken. Hy het onder meer gedreig dat enige land wat die Islamitiese Staat help of met hom sake doen, die ekonomiese gevolge daarvan sal dra.
Lees ook: Trump verklaar ‘ekonomiese oorlog’ teen Iran
Die konflik het op 28 Februarie uitgebreek met Amerikaanse en Israeliese aanvalle op die Islamitiese Staat. Iran het in vergelding met missiel- en hommeltuigaanvalle reg oor die Golf-streek teruggekap.
Sentinel — Human
The text reads like a compilation of news reporting focusing on diplomatic tensions between Iran and the US, relying on quoted statements and reported events rather than deep analytical synthesis.
