’n Voormalige sokkerafrigter (48) is tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, nadat hy skuldig bevind is aan seksuele misdrywe teen drie jong seuns wat aan sy sorg toevertrou was.
Die Emalahleni-streekhof het die man op nege aanklagte skuldig bevind – drie aanklagte van seksuele aanranding, drie van seksuele uitbuiting en drie van seksuele toenadering (grooming).
Sy identiteit word weerhou om die slagoffers teen sekondêre viktimisering te beskerm.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is die misdrywe tussen September en Oktober 2023 in Vosman gepleeg. Die man het destyds kinders tussen sewe en 18 jaar oud afgerig.
Getuienis tydens die verhoor het gewys dat die slagoffers gereeld die afrigter se huis besoek het om onder meer sokkertruie en toerusting te help was, of bloot tyd saam met hom deur te bring. Volgens die NVG het hy die vertroue wat die kinders en hul families in hom gestel het, uitgebuit en die seuns by verskeie geleenthede seksueel misbruik.
Die misdrywe het aan die lig gekom, nadat twee van die seuns een aand nie huis toe gekeer het nie. Hul ouers is meegedeel dat hulle by die afrigter se huis was en het hulle daar gaan soek.
Met hul aankoms het die afrigter glo gesloer om die deur oop te maak. Nadat die ouers uiteindelik toegang tot die huis verkry het, het hulle die seuns binne aangetref. Die kinders het daarna vertel dat hul afrigter hulle seksueel aangerand het.
Die saak is onmiddellik by die polisie aangemeld. Die daaropvolgende ondersoek het nóg voorvalle waarby ’n derde slagoffer betrokke was, aan die lig gebring en verdere aanklagte is teen die man ingestel.
Die afrigter het onskuldig gepleit en ontken dat hy die slagoffers geken of afgerig het.
“Die beskuldigde het ’n posisie van vertroue en gesag misbruik om kwesbare kinders wat aan sy sorg toevertrou was, te teiken,” het staatsaanklaer Princess Mathabathe ter strafverswaring aangevoer.
Die seuns het getuig dat die afrigter hulle by sy huis uitgetrek en seksuele dade teen hulle gepleeg het. Hulle het ook getuig dat hy ná die voorvalle vir hulle geld, koekies en koeldrank gegee het.
Die hof het die drie slagoffers se getuienis as geloofwaardig, duidelik en konsekwent aanvaar en bevind dat hul weergawes mekaar in wesenlike opsigte ondersteun.
Die afrigter se weergawe is daarenteen as vals, onwaarskynlik en deurspek met teenstrydighede verwerp. Die hof het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Mathabathe het ter strafverswaring aangevoer dat die man sy posisie van vertroue en gesag misbruik het om kwesbare kinders wat aan sy sorg toevertrou was, te teiken.
Slagofferimpakverklarings deur die kinders en hul ouers het volgens die NVG die ernstige emosionele en sielkundige gevolge van die misdrywe uiteengesit. Die kinders het onder meer gevoelens van verleentheid, selfverwyt en trauma beskryf, terwyl hul ouers ’n merkbare verswakking in hul akademiese prestasie en algemene welstand opgemerk het.
“Persone in gesagsposisies oor kinders het ’n plig om hulle te beskerm en te versorg, eerder as om hulle vir hul eie seksuele bevrediging uit te buit,” het die hof benadruk. Benewens die 15 jaar direkte gevangenisstraf, is die man onbevoeg verklaar om met kinders te werk en om ’n vuurwapen te besit. Die hof het ook gelas dat sy naam in die Nasionale Register vir Seksoortreders opgeneem word.
Die NVG het die slagoffers en hul families geloof omdat hulle die misdrywe aangemeld en die vervolging ondanks die trauma ondersteun het.
Sentinel — Human
The text reads like a formal summary of a legal case, characterized by detailed factual reporting and contextualizing judicial outcomes.
