Die skerp daling in die koers waarteen voornemende motorbestuurders hul leerlingrybewyse dop sedert die aanvang van die nuwe aanlyn toetsstelsel, dui volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) daarop dat eksaminatore en aansoekers nie meer so maklik daarmee kan kul nie.
Daar is groeiende kommer oor die slaagsyfers – by sommige toetssentrum so laag as 20% –asook bewerings dat vrae in die nuwe aanlyn toetse onduidelik of onnodig ingewikkeld geformuleer is.
Die DA in die Wes-Kaap gaan vandeesweek oorsigbesoeke by lisensietoetssentrums in George en Knysna aflê nadat kandidate wat die nuwe aanlyn toets geskryf het, ʼn gemiddelde slaagsyfer van slegs 17% in die 2025-’26-boekjaar behaal het.
Die provinsie se gemiddelde leerlingrybewys-slaagsyfer vir dieselfde tydperk in die vorige boekjaar was 63%.
Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, sê die laer slaagsyfer wys dat die nuwe stelsel kanse vir bedrog beperk.
“Vir ons dui dit daarop dat eksaminatore en aansoekers nie meer maklik met die toets kan kul nie,” sê hy.
Die RTMC het self die data oor die daling in slaagsyfers ontleed en die inligting daarna bekend gemaak, sê hy. Die nuwe stelsel het volgens die RTMC ook gewys dat talle aansoekers nie voldoende voorbereid is wanneer hulle die toets aflê nie.
Prof. Nomafrench Mbombo, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder vir vervoer, sal tydens die besoeke met amptenare vergader om vas te stel wat tot die swak uitslae sedert die instelling van die stelsel bydra.
Die party wil onder meer bepaal of die lae slaagsyfer verband hou met die oorgang van ʼn handgeskrewe na ’n aanlyn toets, of aansoekers voldoende steun ontvang en of die formulering en formaat van vrae onvoorsiene uitdagings skep.
“Die DA in die Wes-Kaap steun die oorskakeling na ʼn aanlyn leerlingrybewys-toetsstelsel omdat dit die integriteit van die proses versterk en geleenthede vir bedrog verminder. ʼn Slaagsyfer van slegs 17% skep egter belangrike vrae wat antwoorde verdien,” sê Mbombo.
Die DA wil vasstel of beter openbare bewusmaking, meer steun vir aansoekers en groter samewerking met bestuurskole nodig is.
“Ons wil ʼn stelsel hê wat terselfdertyd streng én billik is.”
RTMC ontken probleme met vrae
AfriForum Jeug het intussen Barbara Creecy, die minister van vervoer, uitgedaag om self die nuwe aanlyn toets af te lê.
Die organisasie voer aan dat die stelsel dit “skynbaar onmoontlik” vir talle jong mense maak om ʼn leerlingrybewys te bekom. Volgens AfriForum Jeug het sommige kandidate gekla dat vrae dubbelsinnig of ingewikkeld geformuleer is.
Zwane sê die RTMC het nog geen bewyse ontvang wat dié bewerings staaf nie.
“Ons is nie van bewyse hiervan voorsien nie. Die nuwe soort vrae word reeds vir baie jare in ʼn provinsie soos KwaZulu-Natal gebruik, wat die eerste provinsie was om die aanlyn toetsstelsel in te stel. Daar was geen klagtes nie.”
Volgens Zwane word die vrae deur kundiges in die bedryf aan gehaltebeheer onderwerp. Die studiemateriaal en vraebank is ook volgens hom by die aanlyn stelsel aangepas.
Die studiemateriaal is egter nog nie in al Suid-Afrika se amptelike tale beskikbaar nie.
Zwane sê verder dat kandidate met beperkte rekenaarvaardighede nie deur die nuwe stelsel benadeel word nie. Kandidate ondergaan volgens hom oriëntering en ontvang ʼn verduideliking van wat hulle kan verwag.
Die RTMC het ook geen tegniese probleme, sagtewarefoute of bedryfsuitdagings geïdentifiseer wat tot die laer slaagsyfers kon bydra nie, sê Zwane.
‘Swak voorbereide bestuurders is gevaar’
Volgens Zwane is die RTMC nie net bekommerd oor bedrog en korrupsie by lisensietoetssentrums nie, maar ook oor die gevaar wat swak voorbereide bestuurders op die land se paaie inhou.
Op die vraag of die korporasie bereid sou wees om die vraebank of toetsmetode te hersien indien bevind word dat die stelsel kandidate onnodig benadeel, het Zwane gesê dit sal oorweeg word indien die RTMC van “geldige wetenskaplike bewyse” voorsien word.
Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug, sê die organisasie steun maatreëls om korrupsie te bekamp, maar waarsku dat die toets kandidate se kennis van verkeersreëls moet meet en nie hul vermoë om ingewikkelde vrae te vertolk nie.
“Die stelsel moet egter steeds toesien dat ʼn kandidaat se kennis van die verkeersreëls werklik getoets word, eerder as om hul vermoë te toets om ʼn ingewikkelde of dubbelsinnige vraag te interpreteer,” sê Koster.
Die DA se bevindings ná sy besoeke aan George en Knysna sal gebruik word in verdere gesprekke met die Wes-Kaapse departement van vervoer en die provinsiale staande komitee oor vervoer.
- Maroela Media het die kantoor van Barbara Creecy, die minister van vervoer, vir kommentaar genader en terugvoer sal bygewerk word.
Nee hulle wil 30% slaag syfer hê.
Laat mense eers hulle kode 8 lisensie kry en dan kode 10, ek weet van mense wat net vir kode 10 gaan en nie eers kan bestuur nie, dis gekoop verseker
Facts Only
* The pass rate for applicants who wrote the new online test averaged only 17% in the 2025-’26 fiscal year in George and Knysna licensing centers.
* The provincial average learner's license pass rate for the same period in the previous fiscal year was 63%.
* The RTMC states that the lower pass rate suggests the new system limits opportunities for fraud.
* The RTMC has found that many applicants are not sufficiently prepared when taking the tests.
* Simon Zwane stated that the RTMC has not found evidence that the questions are unclear or unnecessarily complicated.
* The RTMC reported no technical issues, software errors, or operational difficulties contributing to the low pass rates.
* AfriForum Jeug claims some candidates found the questions to be ambiguous or unnecessarily complex.
* The RTMC claims that study material and question banks have been adjusted by experts in the operation.
