’n Derde beskuldigde het nou in die Johannesburg-landdroshof verskyn in verband met die beweerde roof van edelstene ter waarde van sowat R14,9 miljoen in Killarney, Johannesburg.
Keisha Leigh Stols, nog ’n lid van die Ekurhuleni-metropolisie, het haar Maandag by die Addendale-polisiestasie oorgegee waarna sy in hegtenis geneem is op aanklag van roof met verswarende omstandighede en bedrog.
Magaboke Mohlatlole, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die staat het Dinsdag suksesvol aansoek gedoen dat Stols as derde beskuldigde by die saak teen Adrian Mackenzie en Etienne van der Walt gevoeg word.
Maroela Media het vroeër berig Mackenzie en Van der Walt is reeds in hegtenis geneem in verband met die beweerde diefstal van edelstene uit ’n private huis in Killarney. Die ondersoek het aanvanklik na ses verdagtes gekyk, onder wie drie Ekurhuleni-metropolisiebeamptes (EMPD), een lid van die Johannesburgse metropolisie en ’n man wat hom glo tydens die klopjag as ’n polisiebeampte voorgedoen het. Een van die ses verdagtes is intussen oorlede.
Die aanklagte hou verband met ’n voorval op 11 Februarie 2023 by ’n huis in Killarney. Die beskuldigdes het hulle glo valslik voorgedoen as lede van ’n multidissiplinêre wetstoepassingspan, bestaande uit beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie en die Valke, wat vermoedelik ’n saak van litiumsmokkelary ondersoek het.
Die staat voer aan die beskuldigdes het deur dié wanvoorstelling toegang tot die huis bekom, waar hulle die klaer glo aangerand en met vuurwapens gedreig het.
Hulle het na bewering ses bokse met hoëgraadse sugiliet- en mangaanstene, wat algemeen as edelstene beskryf word, buitgemaak. Die edelstene se waarde word op ongeveer R14,9 miljoen geraam.
Mohlatlole sê die staat beweer verder dat die Ekurhuleni-metropolisiebeamptes buite hul wettige jurisdiksie opgetree en valslik aangevoer het dat hulle gemagtig was om wetstoepassingsoperasies in die Johannesburgse metropolitaanse gebied uit te voer.
Mackenzie en Van der Walt het vroeër reeds in die hof verskyn. Volgens vorige inligting van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die verdagtes glo die perseel sonder ’n lasbrief deursoek. Van die edelstene is later in die voertuig van een van die Ekurhuleni-metropolisiebeamptes gevind.
Die saak is tot 16 Julie uitgestel vir formele borgtogaansoeke. Al drie beskuldigdes bly tot dan in aanhouding.
Sentinel — Human
The text exhibits the characteristics of factual news reporting, structured around specific legal proceedings, without strong indicators of synthetic generation.
