Skip to content
Chimera readability score 61 out of 100, Academic reading level.

Peet Viljoen (57) het in sy borgtogaansoek aangevoer hy wil sy “sterwende pa” bystaan, maar volgens die staat is sy pa nie terminaal siek aan kanker nie.
In sy eedsverklaring, wat Woensdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria voorgelees is as deel van Viljoen se borgtogaansoek, het hy aangevoer sy “pa is bejaard en baie siek”.
“My pa lewe nog en is 85 jaar oud en siek … ons is ʼn hegte familie en ek sal nie my pa versaak wanneer hy my nodig het nie,” lui Viljoen se verklaring.
Op 4 Junie vanjaar, toe Viljoen voor die Amerikaanse immigrasieregter Vikram Badrinath verskyn en gevra het om na Suid-Afrika gedeporteer te word, het hy aangevoer sy pa is sterwend aan prostaatkanker. Hy het by die regter gepleit om sy aansoek om vrywillige deportasie toe te staan “sodat hy sy pa, wat sterwend is, ten minste kan groet”.
Kol. Ursula Herfurth, verbonde aan die Valke se ernstige handelsmisdaadeenheid, het in haar eie eedsverklaring, wat die staat voorgehou het om borgtog teen te staan, gesê dit is eenvoudig onwaar dat Viljoen se pa sterwend is.
Volgens Herfurth is dié ontdekking gemaak nadat een van Viljoen se twee susters gekontak is om ʼn adres vir borgtogdoeleindes na te gaan.
“Dié suster, wat in Pretoria woon, het gesê haar woning is beskikbaar sou Peet en Mel daar wou woon indien Peet borgtog toegestaan word, maar dat sy nog nie so ʼn versoek van die egpaar ontvang het nie. Die suster het ook bevestig dat hulle pa haar nooit in kennis gestel het dat hy aan prostaatkanker ly nie. Peet het dus vir regter Badrinath in Amerika gelieg,” lui Herfurth se verklaring.
Verder voer die staat aan dit is nie die enigste leuen wat Viljoen aan Badrinath voorgehou het nie. In sy verhoor het Viljoen aangedui hy wil na Kaapstad gedeporteer word, maar eintlik was sy plan om na Gauteng terug te keer.
Dit was ook nie die enigste oënskynlike teenstrydigheid wat die staat in Viljoen se eedsverklaring aangeval het nie.
Volgens Viljoen is hy en Mel “in die proses om ongeveer R6 miljoen se voorraad en toerusting in die nael- en skoonheidsbedryf te bekom en beplan om dié besigheid te hervat”. Voorheen het die Viljoens Tammy Taylor Nails in Suid-Afrika bedryf, maar dié onderneming is onder ʼn wolk van omstredenheid gesluit en word ook tans ondersoek
Lees ook: Valke sluit drie dossiere in Tammy Taylor-skandaal
Mel Viljoen het Woensdag haar man, Peet, in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria ondersteun. (Foto’s: Isabel Venter/Maroela Media).
“Ons het ook industriële koffiemasjiene wat ons wil gebruik om ʼn koffiewinkel mee te begin,” het Viljoen aangedui.
Volgens die staat het die Viljoens tans geen eiendom of bates in Suid-Afrika nie.
Viljoen het egter volgehou sy “bestaan vir werk en besigheid is in Suid-Afrika”. “Ek en my vrou het sekere aspekte in die VSA, onder meer die lewensvatbaarheid van die mark vir nuwe produkte en spesiale nuwe naelmetodes wat ons beplan om na Suid-Afrika in te voer, gaan navors om te kyk of ons dit kan gebruik om ʼn verdere besigheid mee te begin.”
Die Viljoens se besoek aan die VSA het ook onder die loep gekom. Viljoen het aangevoer hy en Mel was ten alle tye wettig in die VSA en dat hulle besoekersvisums – vir redes wat nie in die hof genoem is nie – teruggetrek is. Volgens Viljoen was hy besig om dit reg te stel en hul besoektyd te verleng toe hulle in hegtenis geneem is.
Die staat daarteenoor het ʼn ander prentjie voorgehou aan die hof.
Luidens die klagstaat word Viljoen daarvan beskuldig dat hy saam met verskeie medebeskuldigdes staatseiendomme ter waarde van R27 miljoen onregmatig verkoop het wat aan die * Johannesburgse metro behoort het.
Volgens Herfurth is die -saak in Februarie 2024 “uitgegooi” weens sekere prosesse wat nie korrek gevolg is nie. Hierna het die hooggeregshof in Pretoria tydens spesiale hersieningsverrigtinge besluit die -verhoor moet de novo, of dan van vooraf, begin.
Verrigtinge het wel van vooraf begin wat tot die uitreiking van ʼn dagvaarding in ʼn strafsaak teen Viljoen in Oktober 2025 gelei het.
Herfurth het dié lasbrief op 13 Oktober 2025 ontvang en dadelik na Viljoen se laaste adres gegaan waar sy bevestig het die huis is verkoop. Hierna het sy bevestiging van die departement van binnelandse sake ontvang dat Viljoen reeds op 24 Mei 2025 Suid-Afrika verlaat het.
Om en by Julie daardie jaar het sy in die media en op sosiale media te hore gekom dat die Viljoens na die VSA verhuis het.
“Tog voorheen het hulle eers die media mislei en gesê hulle is in Australië, sy aanvanklike opmerkings was daarop gemik om mense te mislei waar hy hom waarlik bevind,” het Herfurth ook uitgewys. Sy het in Januarie vanjaar bevestig Viljoen het nog nie teruggekeer nie en op 16 Maart aansoek gedoen vir ʼn lasbrief vir inhegtenisneming.
Viljoen vra om verskoning
In sy eedsverklaring het Viljoen ook om verskoning gevra vir die “hoogs emosionele taalgebruik” in sy sosialemediaplasings. Hy het aangedui hy weet die staat “sal gebruik maak van die plasings, alhoewel dit geen verband hou met die saak nie”.
“Waar sulke sosialemediareaksies die perke van welvoeglikheid oorskry of mense kan seermaak, vra ek om verskoning,” lui sy verklaring. André Steenkamp, Viljoen se prokureur, het dié paragraaf vir ʼn tweede keer herhaal voor hy voortgegaan het met die uitlees van die verklaring.
Viljoen verduidelik verder: “Ek het my opinies op sosiale media gelug om die gevaartekens van die verkeerde beleide, wat die Suid-Afrikaanse ekonomie geweldig kan skaad, uit te wys. Ek beskou dit as my wekroep aan die Suid-Afrikaanse mense om nie die ekonomie te vernietig nie.” Van dié beleide sluit onder meer Suid-Afrika se huidige en voorgestelde grondonteieningswetgewing in, het Viljoen aangedui.
Borgtog in belang van geregtigheid
Volgens Viljoen het hy in die afgelope 16 jaar sedert die aanvang van hierdie saak nooit ʼn hofverskyning misgeloop nie. Hy het ook aangevoer hy het toe reeds verskeie kere na die buiteland gereis en dat die staat altyd bewus was van waar hy hom bevind.
Viljoen het ook uitgewys die staat se saak is oud, is reeds “uitgegooi” en dat van die getuies intussen dood is. Hy het ook verklaar hy is nie ʼn vlugrisiko nie, dat daar ʼn bevestigde adres in die Brits-omgewing is waar hy sal woon en dat hy nie met die saak sal inmeng nie. Viljoen voer ook aan hy het ook aansoek om as regsverteenwoordiger hertoegelaat te word gedoen.
Die staat meen egter Viljoen se optrede in die VSA dui daarop dat hy wel ʼn vlugrisiko inhou en is daar bewyse dat hy ʼn staatsgetuie probeer oorreed het om haar eedsverklaring teen hom te verander.
Viljoen sal in aanhouding bly nadat sy regspan aangedui het hulle wil ʼn bykomende eedsverklaring doen in antwoord op sekere aantygings in Herfurth se verklaring. Die saak sal 23 Julie hervat.
Wys net hoe laag kan hy daal toe hy destyds aangevoer het dat sy pa terminal siek is.
Hierdie man hoort net een plek en dit is die tronk.