Die VSA het gesê lugaanvalle wat Sondag uitgevoer is, was daarop gemik om Iran te “straf” ná die eerste Amerikaanse militêre sterftes sedert hernieude vyandelikhede met die Islamitiese republiek.
Iran het vinnig sy aanvalle aangekondig en gesê twee Amerikaanse basisse in Koeweit is geteiken in reaksie op meer as ʼn week van toenemende aanvalle – wat volgens Teheran aanvalle op ʼn lughawe, ʼn treinstasie en brûe ingesluit het.
ʼn Voorlopige ooreenkoms wat daarop gemik was om die oorlog te beëindig, het in duie gestort, terwyl die teenstanders probeer om die dooiepunt oor die Straat van Hormoes, ʼn waterweg wat van kardinale belang vir die wêreldwye olievervoer is, te verbreek.
Die Iranse weermag het Sondag aangekondig dat hy twee Amerikaanse basisse in Koeweit met hommeltuie geteiken het en ʼn ammunisiedepot by Camp Udairi, asook Patriot-radar- en lugwaarnemingstelsels by die Ali Al Salem-lugbasis, getref het.
Teheran het ook nuwe aanvalle in Jordanië van stapel gestuur, waar die Amerikaanse weermag se Sentrale Bevel (Centcom) gesê het twee dienslede is Vrydag dood, terwyl hulle “teen Iranse ballistiese missiel- en hommeltuigaanvalle verdedig het”.
Volgens Centcom word nóg ʼn dienslid vermis.
Dié sterftes bring die bevestigde dodetal onder Amerikaanse militêre personeel op 16 te staan, sedert Amerikaans-Israeliese aanvalle die oorlog op 28 Februarie begin het.
Die Amerikaanse weermag het gesê hy het vir die agtste agtereenvolgende nag aanvalle op Iran uitgevoer, met teikens wat eenhede ingesluit het wat verantwoordelik was vir die aanval waarin twee Amerikaanse soldate in Jordanië dood is.
Die aanvalle was daarop gemik om magte van Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps, wat die vorige aand aanvalle teen Amerikaanse dienslede in Jordanië uitgevoer het, “vinnig te straf”, het die Amerikaanse Sentrale Bevel gesê.
Die Iranse nuusagentskappe Fars en Tasnim het terselfdertyd berig oor Amerikaanse aanvalle op Sirik, ʼn hawestad aan die Straat van Hormoes in die suide van Iran.
‘Onvergeetlike les’
Iran se opperleier, Mojtaba Khamenei, wat by sy pa oorgeneem het nadat dié in die aanvanklike Amerikaans-Israeliese aanvalle dood is, het in ʼn verklaring wat deur staatstelevisie uitgesaai is, beloof om die Amerikaners ʼn “onvergeetlike les” te leer.
Genl.maj. Mohsen Rezaei, ʼn senior militêre adviseur van Khamenei, het gewaarsku dat Teheran “volskaalse offensiewe operasies” sal hervat, indien Amerikaanse aanvalle in die komende dae voortduur.
Iran se sentrale militêre bevelvoerder, Ali Abdollahi, het ook gewaarsku dat verdere Amerikaanse aggressie met ʼn “beslissende en verwoestende reaksie” begroet sal word, luidens ʼn verklaring wat Sondag deur staatstelevisie uitgesaai is.
Die hernieude geweld is aanvanklik deur Iranse aanvalle op skepe in die strategies belangrike Straat van Hormoes ontketen.
Iran het die seestraat gesluit nadat die oorlog uitgebreek het, en beheer oor die roete het ʼn bedingingsmiddel in onderhandelinge met Washington geword, wat Dinsdag weer sy eie blokkade van Iranse hawens ingestel het.
Die ministerie van gesondheid het Vrydag gesê 50 mense is dood en meer as 500 beseer, sedert die hernieude gevegte uitgebreek het.
Kragfasiliteite
Iran se staatsnuusagentskap IRNA het Saterdag berig dat Amerikaanse aanvalle drie mense in die suidelike provinsie gedood en agt gewond het.
In die Khuzestan-provinsie is agt mense volgens die adjunk- provinsiale goewerneur die afgelope tien dae dood, het Iran se Tasnim berig.
Iran het ook gesê dat die voorsiening van drinkwater aan verskeie suidelike dorpies onderbreek is en die VSA daarvan beskuldig dat hy kragfasiliteite en ontsoutingsaanlegte in die dorpie Bonji aangeval het, volgens Tasnim.
