Skip to content
Chimera readability score 54 out of 100, Graduate reading level.

Anelle de Bruin het glo in ʼn rits oproepe en boodskappe presiese instruksies gegee oor hoe haar man vermoor moet word sodat dit soos ʼn plaasaanval lyk en glo ook gesê “dis oukei as die honde ook geskiet word”.
“Want dan lyk dit soos ʼn plaasmoord,” word haar stem half fluisterend gehoor in ʼn video wat Maandag as bewysstuk in die Maletswai-streekhof in die Oos-Kaap gewys is.
In dieselfde opname sê De Bruin wat daarvan aangekla word dat sy saamgesweer het om haar man te laat vermoor, sy “gee nie om vir die bloed nie, dis fine”.
“My man sal op die bed lê. Skiet hom deur die venster in die kop. Ek gee nie om vir die bloed nie,” lui haar beweerde instruksie aan Petrus Johannes van Schalkwyk.
Volgens die staat verwys sy na die huurmoordenaar wat Van Schalkwyk namens haar moes reël.
Video wys beweerde beplanning
Van Schalkwyk het die video van etlike minute gemaak. Dit is later aan die polisie oorhandig.
Hy was die staat se eerste getuie en het onder die beskerming van art. 204 van die Strafproseswet getuig. Van Schalkwyk is gevolglik toegelaat om self-inkriminerende getuienis te lewer, maar kan steeds vervolg word indien die hof sy getuienis verwerp.
Volgens die klagstaat het De Bruin hom opdrag gegee om haar man, Johan de Bruin, ʼn bekende boer in die omgewing, te vermoor.
In die opname verduidelik De Bruin wanneer Johan gaan slaap en wys sy na ʼn skuifdeur waar daar volgens haar nie kameras is nie.
“Aan ons kant van die kamer is daar ʼn skuifdeur en geen kameras nie. Wat ek gedink het, is as hy skiet en daar is bloed, is dit fine want ons sal in die huis wees.”
Sy sê verder die kameras voor die huis sal wys sy het “iets gehoor” en hulp ontbied.
“Al moet hy die honde skiet, dan lyk dit soos ʼn plaasmoord. Dis oukei.”
Volgens die opname verduidelik De Bruin ook dat indien Johan iets opmerk, dit hom ʼn ruk gaan neem om sy vuurwapen uit die kluis te haal. Sy sê in die video die skieter kan sommer deur die traliehek skiet, maar moet binne ʼn halfuur verdwyn omdat “dit is wanneer die eerste hulp sal begin opdaag”.
Byna aan die einde van die video sê De Bruin glo ook dat enigeen wat in die pad staan, geskiet moet word.
‘Ek het polisie genader’
Van Schalkwyk het getuig hy en De Bruin was goeie vriende en wou saam ʼn onderneming begin wat natuurlike kruiemedisyne verkoop.
Hy sê De Bruin het hom op 4 Januarie 2025 ontsteld gebel ná ʼn voorval tussen haar en haar man. Dis onduidelik wat die voorval behels het. Volgens hom het dit tydens dié gesprek duidelik geword dat De Bruin “haar man fisiek wou laat uithaal”.
“Sy het verduidelik sy is moeg vir haar man en sy het my ook vertel daar was ʼn vorige geleentheid toe sy hom vergiftig het, maar sleg gevoel en die ambulans gebel het.”
Hy sê hy het aanvanklik gehoop sy was net emosioneel en sou van plan verander.
“Maar sy het aangehou om my te kontak … dit het duidelik geword sy is vasbeslote om haar man uit te haal.”
Volgens Van Schalkwyk het hy self besluit om na die polisie te gaan.
“As Anelle nie van my gebruik maak nie, gaan sy van iemand anders gebruik maak of dalk haar man vergiftig soos sy reeds laat blyk het.”
Hy het verder getuig De Bruin het reeds R4 400 as ʼn “afbetalingsdeposito” in sy private bankrekening inbetaal.
“Ons het nooit spesifiek gepraat oor hoeveel die hele ding sou kos nie. Sy het gesê sy het nie nou geld nie, maar ons sal oor geld praat uit die boedel as haar man dood is.”
Volgens hom het hulle daarna by De Bruin se gastehuis op Lady Grey ontmoet waar die besonderhede bespreek is.
Hy het die gesprek op 8 Januarie op video opgeneem en dit aan die polisie oorhandig. Die volgende dag het hy gehoor De Bruin is in hegtenis geneem.
Verdediging bevraagteken video
Nog voordat Van Schalkwyk begin getuig het, het dit aan die lig gekom dat hy nié ʼn polisieagent is nie, soos vroeër berig is.
De Bruin se regspan het vroeër by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aansoek gedoen om toegang tot die volledige polisiedossier en wou onder meer weet of die direkteur van openbare vervolgings ʼn geheime operasie ingevolge art. 252A van die Strafproseswet gemagtig het.
Anele Magibile, die staatsaanklaer, het die hof meegedeel die aansoek is van die hand gewys en dat geen sodanige operasie gemagtig is nie.
Adv. Alan Simpson, vir De Bruin, het ook kapsie gemaak teen die video se toelating en aangevoer die staat sal nog moet bewys dat daar nie aan die opname gepeuter is nie.
“Dit sal my kliënt se weergawe wees dat ʼn klassieke lokvalsituasie daarin gesien kan word ontvou.” De Bruin se weergawe sal wees dat die video op instruksie van die polisie opgeneem is en daarom op uitlokking neerkom.
Die video is voorlopig as bewysstuk toegelaat.
Die verhoor duur voort.

Sentinel — Human

Confidence

The text exhibits characteristics of professional journalistic reporting, utilizing specific names, legal context, and narrative flow consistent with human-written news analysis.

Signals Detected
low severity: Varied sentence length and complex subordinating clauses typical of journalistic prose.
low severity: Strong narrative flow grounded in specific legal context (court proceedings, named testimonies).
low severity: Specific, verifiable details regarding court documents, names, and dates; lack of generic talking points.
Human Indicators
Use of specific legal terms (art. 204 van die Strafproseswet) and precise references to court proceedings and defense arguments.
Integration of direct, intense quoted testimony that features human emotional/narrative texture.
The complexity in structuring the sequence of events and attributed statements suggests editorial judgment rather than pure generation.