Die 27-jarige Rudolf Pretorius is Dinsdag in die streekshof op Fochville skuldig bevind aan die moord op Natasha Wheeler Barnard, maar onskuldig op ʼn aanklag van dwarsboming van die gereg.
Die aanklagte teen hom het gevolg nadat hy Barnard op 3 Maart 2022 in die Boulevard-restaurant-en-kroeg op Fochville aangerand het. Barnard is later by haar ma, Frieda Senekal, se huis afgelaai, waar paramedici haar dood verklaar het. Barnard en haar twee kinders het ten tyde van haar dood by Senekal gewoon.
Pretorius was die kroegman op die aand van Barnard se dood.
Landdros Fatima Khan het in haar uitspraak gesê dat slegs die staat se weergawe van gebeure voor die hof is. Pretorius het die aanklagte teen hom ten sterkste ontken, maar het nie in die verhoor getuig nie. Die verdediging het ook geen getuies geroep nie.
Die staat het verskeie getuies geroep en ʼn lang video van die voorval in die hof gespeel.
Khan het ook benadruk dat die bewerings wat voor die hof was, nie tydens kruisondervraging getoets is nie en dat die verdediging sy saak gesluit het sonder dat Pretorius sy weergawe met die hof gedeel het.
“Daar is swaar gesteun op die staat se weergawe omdat die verdediging nie Pretorius se saak gestel het nie. Die verdediging het ook nie die staat se getuies direk aangevat oor hul getuienis nie en Pretorius se weergawe is nie aan die getuies gestel nie.”
Khan het gesê die staat het bo redelike twyfel bewys dat Pretorius Barnard uit woede aangerand het en dat dit tot haar dood gelei het. Sy het ook gesê Pretorius het geen rede gehad om die kameras in die kroeg op die aand van die voorval af te skakel nie.
“Ek weet van die getuies was ten tyde van die voorval besope en Barnard ook, maar hulle was immers in ʼn kroeg. Hoewel Cindy Scheepers haar getuienis aangepas het, was die ander getuies betroubaar.”
Scheepers het wel bevestig dat daar twee argumente tussen Pretorius en Barnard was.
Maroela Media het vroeër berig Barnard het by die kroegtoonbank gesit en drankies drink. ʼn Woordwisseling het tussen Pretorius en Barnard ontstaan en hulle het mekaar later met glase water en ander voorwerpe gooi.
Barnard wou daarna die kroeg verlaat. Sy het na die deur gestap toe Pretorius haar van agter met ʼn stoelkussing gegooi het. Sy het teruggedraai om weer in te gaan, maar twee mense het na die deur beweeg en Barnard gekeer. Hulle het haar na buite gestamp.
Die stoelkussing het haar teen haar rug, naby haar nek getref.
Pretorius het glo aan die mense wat Barnard probeer keer het gesê hulle kan maar baklei omdat hy het die kameras afgeskakel het.
Van die mense wat in die kroeg was, het gehelp om Barnard in haar motor te kry en haar by haar ma se huis te gaan aflaai.
Nadat Pretorius Barnard glo aangerand het, het hy gesê “as sy haar soos ʼn man wil gedra, moet sy gep**s word”.
Ná Pretorius se skuldigbevinding het Senekal in trane uitgebras, hardop gesnik en haar asmapomp gebruik. Pretorius het in die beskuldigdebank omgedraai en ʼn oomblik na haar gekyk.
Senekal het ná die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê sy is dankbaar oor die hof se beslissing, maar dat sy nie kan glo dat dit meer as vier jaar geneem het voordat geregtigheid vir die dood van haar dogter geskied het nie.
“Ek het van die begin af gesê die Here gaan nie dat hy [Pretorius] ongestraf bly nie en geregtigheid gaan geskied. Die Here het my gedra deur hierdie vier jaar en nou het ek berusting. Ek het nou vrede gemaak met hierdie saak en dat niks haar gaan terugbring nie.”
Senekal sê sy glo Barnard se twee kinders gaan ook verheug wees wanneer sy die bevinding met hulle deel.
“Die kinders gaan deur ʼn moeilike tyd, maar hulle hou kop bo water. Hulle verstaan alles en weet presies wat gebeur het. Ek glo en ek weet dat Natasha weet wat vandag gebeur het, nie dat dit vir haar saak maak nie, maar vir my,” het Senekal bewoë gesê.
Pretorius se ma het tydens die uitspraak na die vloer gestaar en hy is direk ná die verrigtinge na die aanhoudingselle geneem.
Vonnisverrigtinge is uitgestel tot 21 Augustus.
Sentinel — Human
The text reads like a report that successfully integrates formal legal proceedings with deeply personal, emotionally resonant testimony, indicating a strong human editorial hand.
