Die VF Plus sê die nasionale tesourie se besluit om Julie se fondse aan verskeie munisipaliteite tydelik terug te hou, is die onvermydelike gevolg van jare se swak finansiële bestuur en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid in ANC-beheerde munisipaliteite.
Die reaksie volg nadat die tesourie Dinsdag aangekondig het dat Julie se toekennings aan 69 munisipaliteite landwyd – waaronder 16 van die Vrystaat se 19 munisipaliteite en vyf munisipaliteite in Limpopo – tydelik weerhou word weens volgehoue nie-nakoming van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA).
Maroela Media het vroeër berig die tesourie beskryf die stap as ʼn korrektiewe maatreël om fiskale dissipline af te dwing en ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes hok te slaan.
Lees ook: Tesourie weerhou fondse van vier metro’s en 66 munisipaliteite
Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, sê die besluit gaan inwoners wat reeds onder gebrekkige dienslewering ly, nog harder tref.
Hoewel die party streng fiskale dissipline steun, sê Cloete dit beteken min indien amptenare en politieke ampsdraers jaar ná jaar belastinggeld vermors sonder enige gevolge. Volgens hom word munisipale openbare rekeningekomitees (MPAC’s) in ANC-beheerde munisipaliteite dikwels verhinder om hul werk behoorlik te doen, terwyl verkwiste geld eenvoudig afgeskryf word.
“Die tesourie straf nie die ANC nie, maar die huishoudings wat sonder water en elektrisiteit sit, ondernemings wat hul deure moet sluit omdat munisipaliteite nie hul skuld betaal nie en inwoners wat daagliks swak paaie en misdaad moet trotseer.”
Cloete sê amptenare en politieke leiers wat belastingbetalers se geld mors, moet persoonlik aanspreeklik gehou en, waar nodig, vervolg word. Volgens hom lê die uiteindelike oplossing in politieke verandering ná die plaaslike verkiesing op 4 November.
In Limpopo beskryf André Moss, VF Plus-leier in die provinsie en ook ʼn lid van die provinsiale wetgewer, die tesourie se besluit om fondse van die Fetakgomo Tubatse-, Musina-, Thabazimbi-, Modimolle-Mookgopong- en Mopani-distriksmunisipaliteit terug te hou as “geen verrassing nie”.
Volgens Moss is die ingryping die direkte gevolg van jare se ANC-wanbestuur, korrupsie en ʼn gebrek aan finansiële dissipline. Hy sê die tesourie se optrede is nie ʼn onregverdige straf nie, maar ʼn noodsaaklike reaksie op munisipaliteite wat herhaaldelik versuim het om belastingbetalers se geld verantwoordelik te bestuur, kritieke poste te vul en noodsaaklike infrastruktuurprojekte af te handel.
Hy sê egter dat inwoners nie die uiteindelike slagoffers van die stap mag wees nie en vra dat korrupte of onbevoegde amptenare en politieke ampsdraers persoonlik aanspreeklik gehou word. Volgens Moss sal die krisis egter nie opgelos word sonder ʼn verandering in politieke bestuur nie.
Rise Mzansi meen die tesourie se besluit is ʼn verdere bewys van jare se swak finansiële bestuur in Johannesburg. Lukhona Mnguni, die party se burgemeesterskandidaat vir dié metro, sê inwoners betaal die prys terwyl opeenvolgende stadsrade en politieke partye die stad sedert 2016 wanbestuur.
Hy sê die ingryping kom terwyl Johannesburg reeds sukkel om basiese dienste te lewer. Volgens hom beskik Pikitup tans oor slegs ʼn derde van sy voertuigvloot, wat die stad se vullisverwyderingskrisis verder vererger.
Mnguni verwerp die tesourie se standpunt dat die tydelike weerhouding van fondse nie dienslewering sal raak nie. “’n Stad wat reeds met ’n onbefondsde begroting funksioneer en ernstige, volgehoue likiditeitsuitdagings ervaar, kan nie finansiële skokke absorbeer nie. Selfs die onttrekking van fondse vir net een dag sal ’n regstreekse en skadelike rimpeleffek op noodsaaklike primêre dienste hê,” sê Mnguni.
Hy doen ’n beroep op alle betrokkenes om dringend ’n werkbare oplossing te vind wat inwoners eerste stel. Mnguni sê ook die plaaslike verkiesing op 4 November gee aan kiesers die geleentheid om die stad se bestuur te verander.
Die tesourie het intussen aangekondig dat Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, Woensdagoggend by ʼn mediakonferensie in Pretoria verdere besonderhede oor die besluit, die regsgrondslag daarvoor en die proses gaan uitstippel.
