“Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (Sefanja 3:17)
Skrifgedeelte
Sefanja 3:17
Oordenking
Daar was tye in die geskiedenis van die kinders van die Here, sy volk of kerk, toe dit gelyk het of alles tot niet gaan. Dit was asof die woede van die heilige God losgebreek het. Hy het sy ongehoorsame volgelinge oorgegee aan ander om hulle te straf. Tog kom daar weer uitkoms. Die Here gee nie alles oor aan die Bose magte nie. Hy tree weer op. Soos ʼn krygsman wat met krag optree om diegene te red wat aan Hom behoort.
Kyk ons na die volke wat volgens statistiek Christelik behoort te wees, leef hulle nie tot eer van God nie. Losbandigheid neem toe, vroeëre Christene spot nou openlik met God en sy Bybel se gesag. Liefdeloosheid heers. Daar is slegs liefde vir genot. Uitbuiting van armes. So kan ons voortgaan. Nie om regter te speel nie. Nee! Maar uit diepe kommer oor die gebrek aan eer wat God kry.
Die profeet Sefanja het die oordeel van God oor sy volk aangekondig: “Ellende wag vir Jerusalem, die opstandige, besoedelde stad waarin daar soveel verdrukking is. Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie op die Here nie en dien nie sy God nie” (Sefanja 3:1-2). Jerusalem, die setel van sy openbaring van sy liefde vir sy volk. Daar waar Hy in die tempel vereer behoort te word. Ongehoorsaamheid lei tot ellende.
Is dit wat wag op die Christelike kerke vandag? Ellende, wat God self stuur? Straf Hy moedswillige ongehoorsaamheid? Ja, Hy het die reg om te straf.
Daar skyn egter tog nog lig uit God se paleis. Vir Jerusalem, maar ook vir bekeerlinge uit ander volke, sal daar redding wees. Hy behou die mag om te red, want Hy voer sy besluite deur.
Sefanja 3:17, 20 kondig hoop aan, omdat God genade betoon: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
“Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.” Krygsman wat met groot mag kan optree ter wille van sy eer. Oor diegene wat weer sy aangesig soek, is daar vreugde by die Here. Hy jubel uit liefde vir die oorblyfsel van sy volk.
Volhard dan om die Here se eer te soek. Al voel dit of jy deel van die minderheid is. Keer terug as jy ongehoorsaam was. God is ook jou krygsman, wat regverdig is. Hy sal getrou bly aan sy beloftes. Hy gee redding hier en nou, maar ook op die dag wat Christus as ewige Verlosser kom.
Gebed
Here, regverdige krygsman, redder van u volk, wees tog genadig oor diegene wat steeds u eer soek. Ons erken dat ons wegdwaal. Ons wil weer terugkeer, want by U alleen is daar redding. Amen.
Pitkos
“Die Here ruk op soos ʼn soldaat, strydlustig soos ʼn krygsman. Hy skree en roep die oorlogskreet uit. Hy oorwin sy vyande.” (Jesaja 42:13)
- Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.
Facts Only
* God is the warrior who saves; He is full of joy in love and is still in peace. (Sefanja 3:17)
* A period existed when the people of God faced impending doom, when the wrath of God seemed released.
* The prophet Sefanja announced God's judgment against the people, focusing on Jerusalem as an unfaithful and disobedient city.
* Disobedience leads to calamity; unfaithfulness results in suffering.
* There is hope for redemption, as God retains the power to save and pursues His will.
* The divine figure acts with great power for the sake of His honor.
