Skip to content
Chimera readability score 70 out of 100, Academic reading level.

Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, sê lt.genl. Molefe Fani moet in hegtenis geneem word en genl.maj. Feroz Khan onmiddellik geskors word te midde van ernstige bewerings wat voor die Madlanga-kommissie aan die lig gekom het.
Cameron het Vrydag gesê die jongste getuienis voor die kommissie onthul ’n diepgewortelde verkrygingsnetwerk binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Volgens hom laat die getuienis ernstige vrae ontstaan oor Fani se rol, sy verhoudings en of sy skuif van voorsieningskettingbestuur by die nasionale tesourie na voorsieningskettingbestuur by die SAPD bloot toevallig was.
Hy meen die moontlikheid moet ondersoek word dat Fani doelbewus in ’n posisie geplaas is waar verkrygingsbesluite beïnvloed kon word.
“Dit kan nie as net nog ’n interne aangeleentheid hanteer word nie,” het Cameron gesê.
Fani, die polisie se afdelingskommissaris vir voorsieningskettingbestuur, het onlangs kennis gekry dat die polisie hom moontlik wil skors. Maroela Media het vroeër berig die stap volg op bevindings deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) wat glo gemaak is toe Fani as waarnemende uitvoerende beampte oor verkryging van die nasionale tesourie gedien het. Die bevinding hou glo verband met kontrakte wat onreëlmatig toegeken is sonder die nodige nakoming of nagaan van agtergrond.
Fani het ook verlede jaar voor die parlement se ad hoc-komitee getuig oor ’n R360 miljoen-kontrak wat aan die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare 24 Tshwane, toegeken is om mediese dienste aan die polisie te lewer. Maroela Media het vroeër berig Fani het destyds getuig dat die kontrak nie aan Matlala toegeken moes gewees het nie en dat hy nie gesoek het na ’n manier om die toekenning te regverdig nie.
Die tender is intussen deur Deon Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, gekanselleer nadat ernstige bewerings van bedrog aan die lig gekom het.
Cameron sê Fani behoort nou in hegtenis geneem en voor ’n hof gebring te word, sodat die getuienis behoorlik getoets kan word.
“Suid-Afrikaners kan nie verwag word om te aanvaar dat ’n senior polisiebeampte in die middel van ’n R360 miljoen-tenderskandaal kan staan, maar dat die saak bloot deur stadige interne prosesse hanteer word terwyl openbare vertroue in die polisie verder verbrokkel nie,” het hy gesê.
Cameron sê Khan moet ook onmiddellik geskors word hangende ’n volledige ondersoek.
Khan, die voormalige tweede in bevel van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, is reeds vroeër saam met ander senior polisiebeamptes in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Edelmetale en regsverydeling. Hy, genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke in Gauteng, en Tariq Downes, ’n sakeman van KwaZulu-Natal, is later op borgtog van R20 000 elk vrygelaat.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het vroeër gesê dié aanklagte spruit uit ’n voorval op 5 Mei 2021 toe Downes na bewering met 75,9 gram onverwerkte goud, ter waarde van sowat R62 836, by die OR Tambo- internasionale lughawe betrap is. Volgens die staat het Khan en Kadwa glo beamptes opdrag gegee om Downes vry te laat, ten spyte daarvan dat daar geen ondersteunende dokumentasie vir so ’n geheime operasie was nie.
Khan is die afgelope week ook in Houghton, Johannesburg, gewond in wat die polisie as ’n sluipmoordpoging ondersoek. Hy sou kort daarna voor die Madlanga-kommissie getuig. Sy regspan het aan die kommissie gesê hy is in ’n kritieke toestand in die hospitaal en nie in staat om te getuig nie.
Volgens adv. Zubair Khan, ’n lid van sy regspan, was Khan reeds voor die skietvoorval bekommerd oor sy veiligheid en het hy glo ’n ongemerkte voertuig opgemerk wat hom vanaf Sandton gevolg het. Die polisie het egter gewaarsku teen ongegronde bespiegeling oor die tydsberekening van die aanval.
Volgens Cameron behoort geen senior beampte wat moontlik met sulke netwerke verbind word, in ’n posisie te bly waar hy getuies, dokumente, ondersoeke, rapporteringslyne of operasionele besluite kan beïnvloed nie.
“Die polisiediens kan nie openbare vertroue herbou terwyl ernstige bewerings oor senior amptenare hang wat steeds naby aan mag bly nie.”
Cameron sê die saak gaan nie meer net oor een tender nie, maar oor die vraag of georganiseerde misdaadnetwerke daarin kon slaag om verkryging, intelligensie en senior polisiestrukture te kaap.
Hy meen dit het gebeur terwyl gewone Suid-Afrikaners steeds blootgestel is aan moord, afpersing, bendegeweld en ander geweldsmisdaad.
Cameron het ook verwys na sy vroeëre opmerking “hulle skep”, wat hy tydens die parlement se ad hoc-komitee aan Fani gerig het.
“Dit was nie bedoel as ’n trefsin nie. Ná vandag se getuienis lyk dit al hoe meer na ’n stelsel.”
Volgens Cameron moet daar nou inhegtenisnemings, skorsings en vervolgings wees.
“Daar moet volle aanspreeklikheid wees vir elke amptenaar wat gehelp het om geld wat vir openbare veiligheid bedoel was, in private verryking te omskep.”
Today’s testimony before the Madlanga Commission lays bare the rot that runs straight to the top of the SAPS, confirming what the Democratic Alliance has warned South Africans about for the past two years: corruption within the South African Police Service’s procurement… pic.twitter.com/f3OYAo2CnD
— Ian Cameron (@IanCameron23) July 3, 2026

Sentinel — Human

Confidence

The text displays strong signs of being human-written journalistic reporting, characterized by specific factual attribution and focused narrative structure derived from named public proceedings.

Signals Detected
low severity: Sentence length variance is natural, reflecting reportage rhythm rather than uniform AI cadence.
low severity: The text demonstrates a clear, focused journalistic narrative driven by specific legal and investigative details; it lacks the generalized, passionless balance of typical synthetic text.
low severity: Attribution is highly specific (names, commissions, court cases, specific contract amounts), suggesting reliance on real-world sources rather than template matching.
low severity: The narrative relies heavily on reporting specific public statements and referenced legal outcomes (e.g., court bail, commission findings), grounding the text in verifiable external events.
Human Indicators
Use of specific names, titles, dates, and references to real-world legal/political bodies (Madlanga Commission, SOE, SAPD) indicates grounded factual reporting.
The inclusion of direct quotes that reflect a particular viewpoint (Ian Cameron's framing of accountability) provides an idiosyncratic emphasis.
The dense intertwining of separate, complex investigative threads points toward human editorial synthesis rather than simple LLM chaining.