ActionSA het Donderdag ʼn klag teen Tony Leon, voorsitter van Resolve Communications, ʼn spesialis-openbare betrekkinge- maatskappy, by die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) ingedien.
Dié klag volg nadat John Steenhuisen in ʼn onderhoud met News24 verskeie uitlatings gemaak en onder meer gesê het dat Leon hom ook voorheen “meedoënloos” met negatiewe publisiteit oor die bek-en-klouseer-uitbreking bestook het.
Steenhuisen het in die onderhoud ook uitlatings oor Geordin Hill-Lewis, die nuwe federale leier van die DA, gemaak ná Hill-Lewis se besluit om Steenhuisen as minister van landbou te vervang.
ActionSA eis onder meer dat die OB ʼn amptelike ondersoek doen na Resolve Communications en sy bande met ministers wat in die regering van nasionale eenheid (RNE) dien, asook enige verwante besluite of aksies wat deur daardie ministers geneem is.
Michael Beaumont, die nasionale voorsitter van ActionSA, sê van die bewerings sluit in dat Resolve Communications druk op ministers geplaas het, “soos nou in die openbaar bevestig is deur Steenhuisen”.
Beaumont sê van die begin af het Leon en Hill-Lewis dié bewerings opsy geskuif en die aktiwiteite as invloedwerwing beskou.
“Hulle sing uit dieselfde gesangeboek omdat dit Leon se politieke invloed in die DA is wat veral op DA-regeringsverteenwoordigers toegepas word.”
Volgens Beaumont sou dit nie Resolve Communications se eerste poging tot agterkamertransaksies wees nie.
“Soos beskryf in The Accidental Mayor [Beaumont se boek van 2020] het Leon probeer om ʼn kontrak van R300 miljoen vir een van sy kliënte te fasiliteer tydens ʼn vergadering met Herman Mashaba, die destydse burgemeester van Johannesburg. Leon is die deur gewys en Mashaba het ʼn klag by die party ingedien, net om Leon as voorsitter van die hersieningspaneel van Mashaba se regering aan te tref wat die weg gebaan het vir Mashaba se uitsetting.”
ActionSA sê die party sal ook vrae aan die DA-ministers en adjunkministers voorlê oor hul betrokkenheid by Resolve Communications en eis dat die minister van kommunikasie sowel as Resolve Communications voor die toepaslike parlementêre komitee verskyn om vrae oor hul optrede te beantwoord.
Maroela Media het vroeër berig Leon het dit Dinsdag duidelik gemaak dat sy maatskappy nie aan enige ministers of amptenare voorgeskryf het watter besluite hulle moet neem nie.
“Ons skryf nie aan ministers of amptenare voor watter besluite hulle moet neem nie en ons kan ook nie. Ons het dit nog nooit probeer doen nie. Waar ons namens ʼn kliënt ʼn vergadering aangevra het en daardie versoek van die hand gewys is, het ons die besluit sonder beswaar gerespekteer,” sê Leon.
“Resolve het ten alle tye wettig, deursigtig en in ooreenstemming met die erkende standaarde van ons beroep opgetree. Ons verteenwoordig wettige, wetsgehoorsame besighede – ondernemings wat in hierdie land belê, werk skep en tot die groei daarvan bydra. Ons help hulle om openlik en op grond van die meriete van hul saak met die regering te skakel.”
Leon sê ʼn versoek wat openlik gerig en vrywillig van die hand gewys word, is nie korrupsie nie.
Hy maak dit ook duidelik dat hy nie naïef is oor hoekom hierdie voorval gebeur het nie.
Het JS sy nuwe politieke tuiste gevind, of hou hy ‘n agterdeur oop indien die DA hom nie meer wil hê nie?
Sentinel — Human
The text demonstrates characteristics of high-quality, human-sourced journalistic reporting focused on legal and political actions, lacking the typical mechanical uniformity found in AI-generated content.
