Die weke oue welpie rol tussen die slapende leeus rond, soek ’n maat om mee te speel en weier skynbaar om rustig te lê. Vir ’n oomblik is klein Kio minder toekomstige koning en meer woelige peuter.
Dan val sy trop se leeuwyfies buffels aan. Een van die enorme diere slinger ’n wyfie met sy horings genadeloos die lug in en binne sekondes verander National Geographic se nuwe dokumentêre reeks Lion van ’n liefdevolle familietoneel in ’n herinnering aan hoe genadeloos die natuur werklik kan wees.
Dit is die krag van dié vierdelige natuurdokkie: Kio se lewe ontvou met die emosionele ritme van ’n groot dramareeks, maar niemand kon vooraf die einde skryf nie.
Lion volg die leeuwelpie oor vier jaar – van sy geboorte tot sy stryd om uiteindelik sy plek as koning van ʼn trop leeus in die Maasai Mara in Kenia te verdien. Die produksiespan het byna 1 400 dae in die veld oor 52 opnamesessies deurgebring om hierdie merkwaardige grootwordverhaal van ʼn leeu vas te vang.
Agter die reeks staan Jon Favreau, regisseur van die 2019-weergawe van The Lion King, en Mike Gunton van BBC Studios se natuurhistoriese eenheid. Favreau se liefde vir groot, emosionele verhale en Gunton se ervaring met natuurdokumentêre maak van Lion iets wat soms nader aan ’n rolprent as ’n tradisionele natuurdokumentêr voel.
Die invloed van The Lion King is onmiskenbaar. Wanneer ’n mens Kio sien loop, speel en stadigaan sy plek tussen sy ouer broers vind, kry die geliefde animasieverhaal skielik ’n wilde werklikheid hier in Kenia. ʼn Mens besef ook opnuut hoeveel toewyding die rolprentmakers van die oorspronklike animasiefliek daarin gestort het om die rolprent na die silwerdoek te bring.
Die musiek in Lion dra ook by tot die besonderse verhaal met Hans Zimmer se Bleeding Fingers Music wat ’n klankbaan geskep het waarin opnames uit die Maasai Mara, plaaslike sangers, instrumente en selfs leeubrulle verweef word. Daar is ook die mooiste musikale kopknikke na The Lion King se eie onvergeetlike klankbaan wat honderdeduisende fliekvlooie en teaterbesoekers al vermaak het.
Maroela Media het Woensdag tydens die bekendstelling by The Venue by Nine Yards in Rosebank ’n voorsmakie van die reeks gekry. Gaste het hul spoorsnyvernuf op grootkat- en kleinkatspore getoets voordat Kio se wêreld op ’n tamaai TV-skerm oopgevou het.
Dit het nie lank geneem voor Kio elkeen van ons se hart gesteel het nie. Sy ma, Summer, vorm die veilige middelpunt van sy wêreld, maar rondom hulle wag buffels, hiënas, mededingende leeus, hongerte, storms en die voortdurende stryd om te oorleef.
Wanneer Summer aan die begin van die tweede episode oor die veld roep en geen antwoord van Kio kom nie, kyk jy lankal nie meer bloot na “nog ’n leeu” nie.
Trek dus die springmielies nader, roep die hele gesin en reis vir ’n paar uur saam na die Maasai Mara. Lion begin Sondag 23 Augustus om 18:00 op National Geographic (DStv 181) en National Geographic Wild (DStv 182), met ’n dubbele episode elke week. Die reeks is ook reeds plaaslik op Disney+ beskikbaar.
Kyk hier na die lokprent van Lion:
