AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dit lyk of die landdros in ʼn kinderverkragtingsaak ʼn welstandseminaar belangriker ag as die saak teen ʼn ma en stiefpa wat daarvan beskuldig word dat hulle seksuele misdrywe teenoor die vrou se dogter gepleeg het toe die kind slegs vyf jaar oud was.
Die landdros in die saak het Donderdag versuim om weens “onvoorsiene omstandighede” in die Brits-landdroshof te wees. Die landdros moes glo ʼn geleentheid in Rustenburg bywoon.
Intussen was die jong kind en al die getuies teenwoordig vir die hofsaak om te begin. Die saak was vir twee dae op die rol geplaas.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die kind en haar pleegouers en het verseker dat die saak wél op die rol geplaas word nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik nie vervolging sou instel nie.
Die ma en stiefpa staan tereg op aanklag van verkragting, seksuele aanranding en versuim om dadelik ʼn seksuele misdryf teen ʼn kind aan te meld. Die oortredings het glo in 2018 plaasgevind.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê daar was tot dusver talle vertragings in die saak.
By twee vorige geleenthede is die saak uitgestel omdat ʼn tolk of ʼn tussenganger nie beskikbaar was nie. By ʼn ander geleentheid is die saak uitgestel nadat die landdros klaarblyklik probleme met haar voertuig gehad het en nie die hofverrigtinge kon bywoon nie. Nie een van die partye, insluitend die beskuldigdes, is ingelig dat die landdros Donderdag ʼn welstandseminaar gaan bywoon wat die voortsetting van hofverrigtinge sou belemmer nie.
Bateman sê die strafregstelsel het werklik inmekaargestort as die regsprekende gesag toelaat dat die welstand van voorsittende beamptes voorkeur geniet bo die welstand van die mees weerlose lede van die samelewing.
“Dit is ʼn skokkende aanklag teen die strafregstelsel en ʼn mislukking om te verseker dat die beste belange van ʼn kind die allerbelangrikste oorweging bly. Elke keer as hierdie saak op die rol geplaas word herleef hierdie meisie haar beproewing van voor af wanneer sy voorberei om te getuig.”
Bateman sê die kind is vir jare aan sekondêre trauma blootgestel terwyl die stelsel wat haar moet beskerm voortgaan om voete te sleep, skynbaar nie geïnteresseerd is om haar te help om hierdie traumatiese hoofstuk van haar lewe af te sluit en haar toe te laat om net ʼn kind te wees nie.
Die misdade het glo plaasgevind toe die kind vyf jaar oud was en ʼn saak is kort daarna aanhangig gemaak. Die meisie is nou 14 jaar oud en ʼn dinamiese tiener in die sorg van haar pleegouers wat die privaatvervolgingseenheid om hulp genader het.
Die saak is in Julie verlede jaar op die rol geplaas nadat die eenheid toegetree het en die saak was aanvanklik vir 16 Februarie vanjaar op die rol geplaas.
